Vrolik met Frikkadelle deur SA Pork!

Vrolik met frikkadelle

Oosterse kosgeure is hoog in die mode. ‘n Kombinasie van varkvleis en al die Oosterse geure is elke keer ‘n wenner.

Oosterse varkfrikaddelle (4 – 6 porsies)

20 – 35 ml olie
1 klein bossie gekapte sprietuie of jong slaai-uitjies of een klein ui
2 knoffelhuises, fyngekap
1 t gekapte, vars gemmer
1 – 2 klein rooi brandrissies, ontpit en fyngekap
Ongeveer 500g gemaalde, maer varkvleis (bestel dit by jou slagter)
3 E gekapte, vars koljanderblare
3 E gekapte, vars kruisement
15 ml sojasous
10 ml Chinese vissous (fish sauce) (opsioneel)
2 snye witbrood, korsies afgesny en fyn gekrummel

Verhit die oond tot 180°C.
Verhit ongeveer 2/3 van die olie en braai die ui, knoffel, gemmer en brandrissie tot sag. Verwyder van hitte en voeg by die varkmaalvleis, saam met al die ander bestanddele.
Meng liggies met ‘n vurk en vorm klein balletjies. Sit dit op ‘n oondvaste bakplaatjie. Gebruik nat hande om dit makliker te vorm, as jy sukkel om netjiese balletjies te vorm. Verf die res van die olie bo-op die frikkadelle.
Bak 15 – 20 minute by 180°C of totdat die varkvleis net-net gaar is. Sit voor met gestoomde rys, murgpampoentjie-repies en enige groente of slaai van jou keuse.

Oosterse sousie vir varkfrikkadelle
Meng 3 E “Hoisin” sous, 1 E sesamsaad-olie, 1 E heuning en 1 E water om ‘n sousie te vorm.
Drup oor die varkvleisfrikkadelle tydens bediening, of gebruik dit as ‘n doopsous.
Klaargekoopte soet rissiesous kan ook op dieselfde manier gebruik word.