Terug na jou deur Madelie Human – Hoofstuk 13

Etienne gooi die boemerang so ver as hy kan en kyk hoe Buks met lang hale hardloop om die ding met sy onvoorspelbare rigting te probeer vang. Hy is nou ’n week alleen hier op Kleinbaai en sy gemoed is nog net so onstuimig as die dag toe hy hier aangekom het.

Sy hart brand om sy seuns te sien en ’n soort verhouding met hulle te begin vestig. Hy het vir hulle ’n brief per e-pos gestuur na die adres waarheen sy sekretaresse altyd hul werkstukke gepos het. Daarin het hy hulle verseker dat hulle steeds welkom is om in sy praktyk te gaan werk en dat hy hulle graag iewers wil ontmoet om te gesels. Maar hy het nog geen antwoord daarop gekry nie.

Hy moet erken, hy mis vir Mercia hier by Boemerang. Baie. Bedags hou hy hom besig, maar die lang winteraande en -nagte alleen in die koue bed is erg.

“Koeeieeee!” roep ’n vrouestem. “Etienne!”

Agge nee, tog net nie weer die hekeltannie nie. Tant Hannetjie bring elke dag vir hom ietsie te ete vandat sy agtergekom het hy is alleen hier by die cottage. Sy hekel glad vir hom ’n serp. Bid jou aan.

Etienne kyk om. Wie? Is dit tog nie Mercia se rooikopsuster wat daar deur die los sand aangesukkel kom nie? Sy het hulle nooit aan mekaar voorgestel nie, maar hy het haar Maandag op Le Fleur gesien en was deeglik bewus van wie sy is. Wat sou sy hier kom soek? Is daar dalk fout?

“Wat’s fout? Mercia? Die tweeling?” is sy eerste vrae toe sy hom bereik.

“Nee, niks is fout nie, maar ek kan nou ook nie juis sê dat iets reg is nie. Jy hol mos soos ’n lafaard weg en los die hele spulletjie net so vir Mercia om uit te sorteer.” Sy kom blasend tot stilstand en sak op ’n rots neer. “Sjoe, ek moes myle loop om jou te kry.”

“Sover ek weet, verkies sy die afgelope ses en twintig jaar al om alles self op te los.” Hy gaan sit op die rots langs haar.

“Jy is kwaad omdat sy jou nie van die kinders vertel het nie, maar noudat jy dit weet, doen jy ook niks daaromtrent nie. Hoe werk jou kop?”

“Wie’t gesê ek doen niks nie?”

“Hier lê jy by die see rond en die seuns is in Kaapstad. Ek dag jy sou graag jou seuns wou leer ken? Dit help veel.” Sy maak haar groot bont handsak oop en haal ’n sigaret uit ’n houer.

“Jy rook?” vra hy verbaas.

“Ja, en wat daarvan? Moet tog net nie vir my preek oor my gesondheid nie.” Sy gooi die sigarethouer in die sak terug en grawe vir ’n aansteker. “Ek doen als wat my prim and proper suster nie doen nie. As sy soos ek was, sou niks van hierdie gemors haar oorgekom het nie, dan sou sy toentertyd haar vark van ’n man onder sy dinges geskop het en jou by jou vrou afgevry het.”

Etienne lag vir die eerste maal in dae, neem die sigaretaansteker by haar en help haar om haar sigaret in die wind aangesteek te kry. “Jy sou my afgevry het, sê jy?”

“H’m. Stuffy professors is nou nie juis my styl nie, maar jy’s nogal sag op die oog en as jy dalk wonder, ek is baie gelukkig getroud met my Janneman, baie dankie.”

“Ek kan glo dat jy die saak anders as my Mia sou hanteer het, ja.” Hy sug en gee haar sigaretaansteker terug.

Sy teug diep aan haar sigaret en haar oë vernou. “Jou Mia?”

“Ja. Ongelukkig is die liefde nie ’n kraantjie wat mens oop en toe kan draai nie. As mens dit kon doen, sou die afgelope jare saam met Claire nie die hel op aarde gewees het wat dit was nie.”

“Hel op aarde?”

“Sy was onvergenoeg, selfsugtig, het gedurig gekla. Moet ek aangaan?”

“Ek het geweet sy was siek, maar ek het nie geweet . . . So jou lewe was allesbehalwe met rose besaai?”

“Jip, maar dis nie waaroor jy met my kom gesels het nie. Terloops, wat het jy hier kom maak? Is jy op pad terug Swellendam toe? Dis mos waar julle bly, nie waar nie?”

“Ja. Die uitdraai hier na Kleinbaai toe van die N2 af is nie so ver nie, toe dag ek ek kan jou net so wel kom opsoek.”

“Weet Mercia jy’s hier?”

“Nee. Sy sal eerder vrek voor sy agter jou aanloop, toe dag ek ek sal maar die lopery namens haar moet doen.”

“En wat het jy vir my kom sê noudat jy hier aangeloop gekom het?” Hy kan dit nie help nie, hy hou van hierdie suster van sy Mia.

“Dat jy onnosel is.”

Die geluidlose lag skud sy skouers. “Inderdaad. Hoekom?”

“Alles wat jy, volgens jou, jou lewe lank begeer, is binne jou bereik, maar nie hier nie. Wat soek jy dan hier?”

“’n Leeftyd gelede het Mercia my as pa van haar kinders misken, as man wat haar kan bystaan wanneer dit nodig is. Toe sy na my toe moes kom, het sy nie. Toe het sy almal om haar, selfs Claire se gevoelens, bo myne gestel. Hierdie keer moet sy uit haar eie na my toe kom, anders sal ek nooit weet of sy my werklik wil hê nie. Daardie tyd was ek ’n middel tot ’n doel, want sy wou Johann terugkry met ons verhouding. Nou wil ek weet dat sy na my toe kom omdat ek die enigste man is met wie sy saam oud wil word, dat sy my werklik liefhet.”

“Jy’s selfgenoegsaam, nè? Het jy haar gister kans gegee om haar kant van die saak te stel?”

“Natuurlik. Sy het vir ’n halfuur lank haar kant van die storie vertel. Jy was daar, jy weet dit.”

“Al wat sy gedoen het, was om jou oor die feite in te lig. Het sy een enkele woord oor haar eie gevoelens gerep? Het sy jou vertel van die pyn en vernedering wat sy moes verduur in die eng boeregemeenskap waar sy bly? Het sy gepraat oor die onsekerheid oor wat haar te doen gestaan het toe sy met die tweeling swanger geraak het? Weet jy van die jare se selfverwyt en berou oor jou wat jou kinders se eerste lewensjare misgeloop het? Wat weet jy van die derduisende kere wat sy oorweeg het om tog maar na jou toe te gaan toe sy hulp en raad so bitter nodig gehad het, maar telkens besluit het dat sy dit nie aan jou arme vrou kan doen nie? Weet jy dat dit sy is wat die tweeling sagkens in die rigting van mediese studies gestuur het sodat hulle in jou voetspore kan volg omdat sy geweet het dat dit jou hartewens sou wees?”

 

Terug na jou deur Madelie Human is ’n gratis boekbederf met die vriendelike samewerking van LAPA Uitgewers. Besoek www.lapa.co.za of die Romanza-app vir nog boeke deur Madelie Human.