Snoektert

Genoeg vir 4 − 6

 

BESTANDDELE

Tertdeeg

170 g koekmeel

’n Knippie sout

100 g koue botter

Ongeveer 2 – 3 eetlepels yswater

Vulsel

1 koppie gerookte snoek, fyn uitgepluis met die velle en grate verwyder

2 eetlepels botter

2 eetlepels koekmeel

1ui, fyngekap en gesmoor in ’n bietjie olie

Sout en varsgemaalde swartpeper

¼ teelepel mosterdpoeier

1 koppie louwarm melk

1 koppie gerasperde cheddarkaas

2 eiers (wit en geel geskei)

3 eetlepels gekapte pietersielie

 

METODE

Gooi die koekmeel en sout in ’n groterige mengbak. Vryf die botter met jou vingerpunte liggies in die meel in totdat die mengsel soos growwe mieliemeel lyk. Voeg die yswater bietjie vir bietjie by totdat jy ’n stywe, hanteerbare deeg het. Bedek dit met kleefplastiek en laat dit vir 30 minute in die yskas rus. Rol dit uit en voer ’n oondvaste tertbord daarmee uit. Prik die bodem met ’n vurk.

Vulsel: Smelt die botter in ’n kastrol oor lae hitte en roer die koekmeel daarin. Haal dit van die hitte af en roer die helfte van die warm melk vinnig met ’n houtlepel by. (Moenie stres as die sous klonte maak as jy die eerste keer die melk byvoeg nie – druk bloot jou handmenger of elektriese klitser in die mengsel in en klits al die klonte uit.) Roer aanhoudend en plaas dit terug op die hitte en roer die res van die melk by. Roer totdat die sous begin dik word en byna begin kook. Geur met sout en peper en mosterdpoeier. Haal dit van die hitte af en roer die kaas en geklitste eiergele by. Roer die gesmoorde ui en snoek by. Vou die styfgeklitste eierwitte en pietersielie by en giet in die rou pasteikors. Bak 20 tot 30 minute in ’n voorverhitte oond van 200°C.