Ma nou ook aangekla ná kind sterf

Die ma en stiefpa van ’n 18 maande oue baba wat weens ernstige beserings aan sy kop en lyf gesterf het, verskyn Woensdag in die landdroshof in Kaapstad.

Die man (26) word van moord aangekla en die ma (30) staar aanklagte onder die Kinderwet in die gesig.

Die polisie het aanvanklik slegs die stiefpa in hegtenis geneem en die ma vir ondervraging gehou.

Die twee is Maandag na die polisiekantoor geneem nadat die kind by ’n kliniek in Kensington gesterf het.

Die werkers by die kliniek het die polisie gebel en hulle vertel van die baba.

Toe die stiefpa by die kliniek gekom het, het hy glo beweer dat die kind sukkel om asem te haal en geval het op pad na die kliniek.

Bron: News24WIRE