Kaassous vir ‘n broccoli-en-blomkoolgebak

 Genoeg vir 4

 

BESTANDDELE

1 middelslag blomkool, in blommetjies gesny en gestoom of gekook

1 middelslag broccoli, in blommetjies gesny en gestoom of gekook

Witsous:

4 eetlepels botter

4 opgehoopte eetlepels koekmeel

2 koppies warm melk

’n Knippie sout en varsgemaalde swartpeper

½ koppie sterk cheddarkaas

 

METODE

Maak die blomkool en broccoli gaar en rangskik in ’n gesmeerde oondskottel. Maak die witsous: Smelt die botter in ’n kastrol oor lae hitte en roer die koekmeel daarby. Haal dit van die hitte af en roer die helfte van die warm melk vinnig met ’n houtlepel by. (Moenie stres as die sous klonte maak as jy die eerste keer die melk byvoeg nie – druk bloot jou handmenger of elektriese klitser in die mengsel in en klits al die klonte uit.) Roer aanhoudend en plaas dit terug op die hitte en roer die res van die melk by. Roer totdat die sous begin dik word en byna begin kook. Geur met sout en vars-gemaalde swartpeper na smaak. Haal dit van die hitte af en roer die kaas by (indien jy dit verkies). Gooi die sous oor die groente en bak in ’n voorverhitte oond van 180 °C vir 30 minute.