Hoofstuk 13 vervolg

“Nee, sy het nie.”

“Ek het haar oor die jare sien swaarkry, maar sy het nooit gaan lê nie. Hoe onwaardiger Johann hom gedra het, hoe waardiger het sy geword. Ek mis die sussie wat ek geken het as iemand saam met wie ek as kind en as student jare se pret gehad het. Die afgelope twee maande het ek gedink ek gaan haar terugkry, maar nou is sy weer die stywerug mevrou Retief van die afgelope dekades. Red haar asseblief voordat daar niks van ons Mercia, die een wat jy Mia noem, oor is nie.”

“Dink jy ek kan dit doen?”

“Ek sou sê jy is die enigste een wat dit kan doen.” Sy teug weer aan haar sigaret en blaas ’n lang string rook uit. “My suster is die onselfsugtigste mens wat ek ken. As sy aan enigiets skuldig is, is dit dat sy haarself verloën het ter wille van ander. Hel, man, maak jou oë en jou hart oop. Sy en daai twee jong manne het jou nou bitter nodig. Lourens en Meyer voel op die oomblik ankerloos. Hulle weet nie herwaarts of derwaarts nie. Hulle het dit nou nodig dat jy hulle trots maak om jou seuns te wees, om Malans te wees. Mercia verdrink in haar eie emosies en jy sit hier ewe selfvoldaan en verwag dat sy agter jou moet aanloop.”

“Wag, wag, wag. Hokaai nou! Ek hoor elke woord wat jy sê. Ek het van Le Fleur af padgegee om almal kans te gee om af te koel en te kalmeer, ek die meeste van almal. Ek het die afgelope dae hier ’n strategie uitgewerk.”

“Om te? Nes julle mansmense is. Jy laat dit soos oorlog klink.”

“Ek het ’n mediese praktyk in die stad wat ek die afgelope jare aan twee vennote oorgelaat het omdat ek tyd nodig gehad het vir Claire. Ek het, nog voordat ek geweet het hulle is my seuns, aangebied dat Lourens en Meyer daar kan gaan werk om broodnodige ondervinding op te doen voor hulle enige ander planne maak vir spesialisering en so. Ek het, noudat ek weet hulle is my kinders, besluit om terug te keer, saam met hulle daar te werk en sodoende tyd saam deur te bring sodat ons ’n familieband kan smee.”

“H’m. Klink goed.”

“Een van my vennote is ouer en wil nou aftree. Dit klink my die ander een wil binnekort emigreer. Ons sal die besonderhede nog uitwerk sodra die tweeling besluit het of hulle my ’n kans gaan gee om vir hulle ’n pa te wees. Ek het Dinsdag al vir hulle ’n e-pos gestuur om te vra, maar hulle het nog nie geantwoord nie.”

“En Mercia?”

“Ek moet toegee, ek was ’n bietjie haastig met haar Maandag, maar dis nie die einde van die saak nie. Gee my kans om dinge met haar uit te werk.”

“H’m. Jy’s nie so vrotsig soos ek gedink het nie. Nou toe, vat my daar oor die duin na jou strandhuis toe en lawe my met iets te drinke sodat ek weer in die pad kan val.”

“Hoe’t jy geweet waar om na my te kom soek?”

“Ek het net geweet jy’s op Kleinbaai. Gelukkig is die plek nie so groot nie en die eerste tantetjie wat ek langs die pad gevra het, het presies geweet waar die professor se huis is.”

“Jy is iets op jou eie, Monica. Mens sal nooit sê jy en Mercia is ’n tweeling nie.”

Hulle begin oor die sand aanstryk.

“Tell me about it. Terloops, ek sal vir jou die tweeling se woonstel in Kaapstad se adres gee. Dis maklik om ’n e-pos te ignoreer, maar as jy nou daar by hulle woonplek sou opdaag . . .”

Hy glimlag. “Dankie. Dit sal baie help.” Nou toe nou. Mercia se suster is nogal ’n unieke karakter, maar hy dink hy gaan van haar hou. Indien hy vir Mercia in sy lewe wil hê, sal hy seker maar daaraan gewoond moet raak dat sy omring is met talle mense wat vir haar omgee. Sy Mia is beslis die liefde van die mense om haar werd en dis tyd dat hy haar wys hy glo dit.

Etienne vee die sweterigheid van sy hande aan sy langbroek af voordat hy aan die woonsteldeur klop. Is hy tog nie senuweeagtig om sy seuns in die oë te moet kyk nie? Daar kom musiek van binne af, maar daar is geen beweging nie. Sou die tweeling daar wees? Hy klop weer en wag.

Skielik gaan die deur oop en Meyer knip sy oë vaak vir hom. “Prof? Wat soek jy hier?”

“H’m. Is Lourens ook hier?” vra hy en loer oor Meyer se skouer in die deurmekaar vertrek in. Mercia sal beslis ’n oorval kry as sy sien hoe dit hier lyk.

“Nee. Hy’s na die klub toe.” Hy nooi hom nie in nie, staan net waar hy staan.

“Klub? Watse klub?”

“Nagklub.”

“Dis nog vroeg. Maak sulke plekke nie eers heelwat later oop nie?”

“Sy meisie werk daar.”

“Meisie?”

“Ja, die soort wat rokke dra, jy weet, behalwe dat Patricia nie juis veel klere dra nie. Sy is ’n ontkleedanseres.”

Genade, sy seun gaan met ’n ontkleedanseres uit? Hy weet beslis minder as niks van wat in sy seuns se lewe aangaan. Sy prim and proper Mia kry sewe toevalle as sy dit moet weet. “Kan ek inkom, asseblief?”

 

Terug na jou deur Madelie Human is ’n gratis boekbederf met die vriendelike samewerking van LAPA Uitgewers. Besoek www.lapa.co.za of die Romanza-app vir nog boeke deur Madelie Human.