Hoofstuk 12 vervolg

“Maaaa, kom hier.” Darius vou haar in sy arms toe en druk haar styf vas. “Die tweeling sal bykom, hulle sal oukei wees. Hulle is twee tawwe mannetjies. Maar is Ma oukei? Wat sê Etienne?” Hy hou haar weg van hom af dat hy in haar oë kan kyk.

“Ek het hom netnou met ’n blou kar sien ry,” merk Gerard op.

“Hy is met ’n gehuurde kar terug Kleinbaai toe. Hy is woedend vir my, kan my skaars in die oë kyk. Hy dink ek het dit alles gedoen vir die Retiefs se geld.”

“Die bliksem! Watter geld? As dit nie vir Ma was nie, was hierdie plek ’n donnerse murasie. Moet ek hom vir Ma gaan regsien?”

Mercia glimlag deur die trane wat al weer haar sig vertroebel. Gerard was nog altyd so heethoofdig, maar sy hart sit op die regte plek. “Jou taal, Gerard,” is al wat sy sê. “Die tweeling praat nou ook al net so lelik soos jy.”

“Askies, Ma, maar daai ou weet nie wat hy aan Ma het nie. Miskien is die prof nie so ’n slim ou soos ek gedink het nie.”

“Die drie Malans het net tyd nodig om hulle eendjies weer almal in ’n ry te kry. Dinge bly maar interessant hier op Le Fleur. Kom, Gerard, ek en jy moet die Retief-miljoene gaan verdien. Het jy nie wingerde wat gesnoei moet word nie?” Darius soen sy ma op die wang en gee sy broer ’n ligte vuishou op die boarm.

“Nie voor ek ’n soentjie gaan steel het daar by die gastehuisbestuurdertjie nie. Ek hoop sy het lekker koffie daar. Bye, Ma. Lief vir jou.” Gerard kom soen haar ook op die mond. “Jy’s nogal oukei, weet jy?” glimlag hy vir haar.

Mercia gee hom ’n drukkie. “Dankie, julle twee. Terloops, Etienne het gesê ek moet julle bedank vir julle ondersteuning gisteraand.”

“Nè? Die arme ou was skoon uitgeboul gister. Hy was glad bewoë oor hy nie sy seuns se geboortedag meegemaak het nie.” Daarmee waai Gerard ook by die agterdeur uit.

’n Brandpyn steek in Mercia se hart. Kan sy Etienne kwalik neem dat hy haar nie kan vergewe nie? Sy knipper haar oë om die trane wat al weer wil loop te keer.

Darius kom nader en vee met sy twee duime oor haar nat wange. “Hy sal bykom. As ek dit nie mis het nie, is die prof ’n baie verliefde man en ’n baie trotse pa. Hy en sy seuns sal almal weer terugkom, Ma sal sien. Hoekom gaan Ma en tant Monica nie vir ’n paar dae iewers heen nie? Wat van ’n lekker kuier by ’n spa of iets, net julle twee girls? Ma is mos amptelik eintlik nog met vakansie.”

“Klink na ’n baie goeie plan. Ek sal hoor of Monica so lank van die huis af kan bly. Ja, miskien maak ons so.” Mercia vou haar arms koulik om haarself en stap saam met Darius tot by die kelder sodat hulle vlugtig oor die kontrakte van die oorsese handelaars kan gesels.

Sy is verlig dat die onderonsie met die tweeling agter die rug is, maar haar hart is stukkend toe sy alleen terug opstal toe loop. Drie van haar hartsmense is vandag bitter ongelukkig. Daar is egter niks wat sy meer kan doen om hulle te help nie, hulle moet nou self hulle demone beveg om deur hierdie krisis te kom. Sy het gedoen wat sy kon.

Al wat sy nou kan doen, is om haar rug styf te maak en haar ken te lig, soos sy sovele male in die verlede moes doen wanneer Johann se dinge haar telkens in sak en as gehad het. Niemand hoef te weet dat hier binne eintlik ’n baie klein meisietjie is wat smag na soveel meer nie.

 

Terug na jou deur Madelie Human is ’n gratis boekbederf met die vriendelike samewerking van LAPA Uitgewers. Besoek www.lapa.co.za of die Romanza-app vir nog boeke deur Madelie Human.