Hoofstuk 12 vervolg

’n Uur later stap Mercia by Darius en Bea se huis se agterdeur in. Sy tref al vier haar seuns om die ontbyttafel in die kombuis aan. “Ontbyt, elfuur op ’n Maandagoggend?” Sy gaan sit op Darius se stoel toe hy onmiddellik opstaan en dit vir haar aanbied.

“Môre, Ma. Ek en Gerard het darem al ’n paar ure se werk agter die blad. Ons het net kom kyk hoe gaan dit hier.”

Meer hoef hy nie te sê nie. Mercia glimlag effens. “Ek is bly julle is almal hier. Ek wil met julle praat.”

“Is dit nie ’n bietjie laat nie?” Lourens tuur dikbek in sy koffie in.

“Hei, mannetjie, gee Ma ’n kans.” Gerard tik sy kleinboet agter die kop.

“Dankie. Lourens, Meyer, dis te verstane dat julle seergemaak en kwaad is. Julle het goeie rede.”

“You bet! Hoe kon Ma dit doen?” Dis Meyer wat haar met beskuldigende oë aanspreek.

Mercia byt op haar tande. “Ek wil graag verduidelik. Laat my net heel eerste dit sê: Watse foute ek ook al gemaak het, my bedoeling was te alle tye om julle te beskerm en na julle belange om te sien.”

“Die feit dat Ma ’n ding met die prof aangehad het, kan ons nog verstaan, want Pa was ’n vark. Maar hoe de hel kon dit in ons belang gewees het om te glo dat Retief ons pa was? Die prof is ’n baie beter . . . ugh!” bedink hy hom blykbaar.

Etienne is op die oomblik duidelik ook nie in sy guns nie. Mercia sien hoe Gerard weer mik om sy jonger broer tereg te wys, maar sy keer hom met ’n kyk.

Meyer gaan voort waar sy broer opgehou het. “Janneli sê ons hy het nie van ons bestaan geweet nie? So Ma het hom nie eens die keuse gegee

om . . .”

“Ek dink julle moet eers vir Ma ’n kans gee om haar kant van die saak te stel, manne,” kom Darius wat teen die yskas leun op sy rustige manier tussenbeide.

Mercia haal diep asem. “Ek en Johann Retief was nie gelukkig getroud nie, maar ek het by hom gebly ter wille van Darius en Gerard. Ek en Etienne het een naweek op Kleinbaai ontmoet en was onmiddellik tot mekaar aangetrokke. Ná die naweek het ons egter besluit dat ons nie kan voortgaan met die verhouding nie omdat ons albei ander verantwoordelikhede gehad het. Ek het my kinders gehad en hy ’n sieklike vrou wat hy nie in die steek kon laat nie. Ons het mekaar nooit weer gesien voor ’n paar weke gelede nadat sy vrou oorlede is nie.”

“En toe kom ek en Lourens . . .”

“Ja.”

“En Ma besluit om nie vir die prof daarvan te sê nie omdat . . .?”

Mercia sug. “Dit was gekompliseerd. Ek kon nie vir Johann los en na Etienne toe gaan nie, want ons verantwoordelikhede het steeds bestaan. Oupa Dawid-hulle het voorgestel dat ek julle as Retiefs grootmaak, maar ook die voorwaarde gestel dat niemand mag weet julle is nie Johann se kinders nie en dat ek en Johann weer ’n poging moes aanwend om ons huwelik te maak werk. Ek het nie ’n keuse gehad nie, ek moes die voorwaardes aanvaar.”

“Ten koste van my en Meyer?” vra Lourens.

“Nee, tot voordeel van almal, al sien julle dit nie nou so nie.”

“Hoe kon dit tot voordeel van almal wees?”

“Julle pa kon julle nie erken as sy kinders nie, want dit sou sy siek vrou se dood veroorsaak om te moes uitvind dat hy twee kinders by ’n an-

der vrou gehad het terwyl sy nie kon kinders hê nie.”

“Watse siekte het sy gehad?”

“Ek is nie seker nie. Haar hart was baie swak. Ek weet net dat sy baie operasies moes kry en dikwels vir lang tye in die hospitaal moes bly. Etienne het haar vir dertig jaar versorg.”

“So julle was albei vreeslik edel. Die prof het sy lewe aan sy siek vrou gewy en Ma het by ’n vark gebly om vir ons ’n ordentlike opvoeding te kon gee? Big deal!”

“Lourens! Hou jou in,” keer Gerard weer.

“Jy kan dit seker so opsom, ja. Glo my, ek het een groot fout in my lewe gemaak en dit berou vir die res van my bestaan.”

“Om ’n skelm fling met die prof te hê?”

“Nee. Dis een ding waaroor ek nog nooit spyt was nie, veral nie omdat dit julle twee tot gevolg gehad het nie. Julle is uit liefde gebore. My fout was om te trou met ’n man voordat ek hom deur en deur geken het. Johann was baie sjarmant en het hom baie goed voorgedoen voor ons troue. Kort ná ons wittebrood het hy egter sy ware kleure begin toon. Soos ek sê, daar is een ding waaroor ek nog nooit een oomblik spyt was nie.”

“En dit is?”

“Dat ek julle vier gehad het. Elkeen van julle het my lewe vol en ryk gemaak en al die nare goed die moeite werd gemaak. Stenig my gerus maar oor my foute, maar alles wat ek gedoen het, was te alle tye die beste wat ek op daardie tydstip vir elkeen van julle kon doen.”

“En dit is die waarheid, manne.” Darius kom nader en druk met sy hande op die tafel om die tweeling mooi in die oë te kan kyk. “Ma het hel op aarde gehad saam met Pa, maar sy het vasgebyt ter wille van ons almal. Ek was al die pad daar, ek weet. Ons kan haar nie kwalik neem dat sy een keer die kluts ’n bietjie kwytgeraak het saam met die prof nie. Maar sy het teruggekom en die afgelope vyf en twintig jaar soos ’n slaaf gewerk om vir ons net die beste te kan gee.”

“Dis waar,” beaam Gerard. “Dis rof dat julle nou moes uitvind dat julle nie is wie julle gedink het nie, maar die prof lyk vir my na ’n baie goeie ou. Miskien hou julle nog daarvan om hom vir ’n pa te hê. Hy is op die oomblik net so omgeklits soos julle oor wat hy gister uitgevind het, maar ek dink dinge kan van nou af net verbeter.”

“En ons moet dankbaar wees daarvoor? Wie is ek nou eintlik? ’n Retief of ’n Malan? My ma het haar lewe opgeoffer sodat ek identiteitloos kan wees?” Lourens spring op en stamp sy stoel onder die tafel in. “Ek gaan terug na ons woonstel in die stad. Kom, Meyer, laat ons waai.” Hy storm by die agterdeur uit met Meyer agterna.

“Jou klein . . .” Gerard spring op.

Maar Mercia kry hom aan die arm beet. “Los hulle, laat hulle gaan. Hulle het tyd nodig om dinge te verwerk.” Mercia staan op en vee moedeloos oor haar gesig.

 

 

Terug na jou deur Madelie Human is ’n gratis boekbederf met die vriendelike samewerking van LAPA Uitgewers. Besoek www.lapa.co.za of die Romanza-app vir nog boeke deur Madelie Human.