Hoofstuk 12 vervolg

“Wat het Johann toe gedoen?”

“Hy het in sy motor gespring en weggejaag. Dit was die laaste keer wat ons hom gesien het. Ek het vir jare lank ’n stryd gehad om Darius te oortuig dat hy nie die oorsaak van sy pa se dood was nie. Niemand weet of dit werklik selfmoord was nie. Almal vermoed dit maar net omdat Johann se gedrag kort voor sy dood baie onstabiel was. Die polisieverklaring het gesê dat daar geen teken op die ongelukstoneel was dat hy gerem of probeer het om die motor op ’n ander manier onder beheer te bring nie. Dit kan natuurlik bloot wees omdat hy te veel gedrink het, maar niks kon bewys word nie.”

“Tipies. Die lafaard kon die gevolge van sy dade nie in die gesig staar nie. En nog steeds het jy nie kans gesien om my te vertel van die bestaan van my kinders nie? Hoekom het jy nie toe na my toe gekom nie? Johann was reeds dood en nog later jou skoonpa ook. Ek kon jou sekerlik op die een of ander manier bygestaan en sodoende my kinders leer ken het.”

“Hoe kon ek jou op daardie stadium in die gemors van my lewe insleep? Jy het reeds jou hande vol gehad met Claire se baie operasies en dinge.”

“Wil jy nou voorgee dat jy my gevoelens enigsins in ag geneem het? Ja, Claire was veeleisend, maar jy het geweet hoe graag ek kinders wou hê. My seuns het sonder ’n pa grootgeword, met die gedagte dat die nikswerd Retief hul pa was, en nou glo hulle boonop dat ek al die jare niks met hulle te doen wou hê nie.”

“Etienne, ek het toe reeds Johann se dood op my gewete gehad. Ek het eenvoudig nie kans gesien om moontlik die oorsaak van Claire s’n ook te wees nie. Jy het my gesê haar swak hart kon nie groot skokke of ontsteltenis hanteer nie. Dit was hoekom sy nooit van ons moes weet nie.” Mercia sug gelate. “Ek het besluit stilbly is die heel beste vir almal van ons.” Haar stem raak weg

by die laaste woorde. Sy voel tot die dood toe moeg. Wel, nou weet hy alles en nou moet kom wat wil.

“Liewe genade, Mia! Ek sal baie lank en baie hard moet dink of ek jou ooit hiervoor kan vergewe.”

Sy antwoord nie, kyk hom net aan.

Hy ignoreer haar verslane uitdrukking. “Ek het ’n kar gehuur wat binnekort hier afgelewer sal word, dan gaan ek vir ’n paar dae terug Kleinbaai toe. Alleen. Ons kinders . . .” hy sluk swaar, “. . . het jou nou hier nodig. Ek sal hulle tyd gee om alles te verwerk voordat ek hulle ook nog meer ontwrig as wat hulle reeds is. Noudat ek van hulle weet, gaan ek beslis deel van hulle lewe wees, of julle dit nou wil hê of nie. My aanbod dat hulle in my praktyk kan werk, staan steeds. Hulle kan daaroor besluit wanneer hulle afgekoel en tyd gehad het om daaroor na te dink.” Hy staan op. “Bedank asseblief vir Darius en Gerard vir hulle ondersteuning gisteraand. Ek het dit waardeer.” Daarmee stap hy uit.

“Etienne!” keer sy.

Hy bly staan, maar draai nie om nie.

“Sal dit help as ek sê dat ek werklik jammer is?”

“Oor jy vir almal om jou gelieg het of oor jy uitgevang is?” antwoord hy byna ongeërg en stap doelgerig verder.

Mercia vererg haar bloedig. Het sy dan nie oor die jare genoeg straf verduur en meer as genoeg boete gedoen oor een enkele misstap nie? “Nee, oor ek so dom was om jou sieklike vrou die pyn en vernedering te spaar dat haar man, vir wie sy nooit kinders kon gee nie, nie een nie maar twee kinders by ’n ander vrou gehad het. Wat was jy beter as Johann?”

Hy gaan staan weer, nou feitlik by die voordeur uit. “Dis ’n lae hou.”

“Miskien, maar ek moes darem een hou inkry nadat jy my heeloggend as ’n slaansak gebruik het.”

Hierdie keer loop hy sonder omkyk heeltemal by die deur uit.

Mercia sak op haar knieë voor die kaggel neer, haal rukkend asem sodat hy eers behoorlik buite hoorafstand kan kom voordat sy in onbeheerste snikke uitbars.

 

 

Terug na jou deur Madelie Human is ’n gratis boekbederf met die vriendelike samewerking van LAPA Uitgewers. Besoek www.lapa.co.za of die Romanza-app vir nog boeke deur Madelie Human.