Dekadente koek

BESTANDDELE

Koek

150 g (²/3 koppie) botter, in stukkies gesny

¾ koppie bruinsuiker

4 eiers, geskei

1 koppie koekmeel

1 teelepel bakpoeier

1 koppie haselneute, gerooster en gekap (sien wenk)

200 g donker- en/of melksjokolade, gekap

’n Knippie sout

Versiering

165 g donker- en/of melksjokolade, gekap

2 eetlepels room

1 teelepel vanilla essence

Vulsel

½ koppie styfgeklopte room

Garnering

2 eetlepels haselneute, gekap

 

METODE

Room die botter en die bruinsuiker saam en klits dan die eiergele een vir een by. Sif die koekmeel en bakpoeier by en meng goed. Voeg die gekapte sjokolade en die neute by. Klits die eierwitte met die sout tot styf en vou dit by die mengsel in. Giet die mengsel in 2 gesmeerde pannetjies van ongeveer 20 cm wat met bakpapier gevoer is en bak in ’n voorverhitte oond van 180˚C vir ongeveer 35 tot 40 minute of tot ’n toetspen of tandestokkie skoon uitkom wanneer dit in die middel van die koek ingedruk word. Haal die koeke versigtig uit die pannetjies en laat dit op ’n draadrakkie afkoel. Smelt die sjokolade saam met die room in ’n dubbelkastrol of in ’n hittebestande glasbak wat oor ’n kastrol met ’n klein bietjie kookwater staangemaak is. Roer die vanilla essence by. Sit een laag koek op ’n mooi staander en smeer die styfgeklitste room op daardie laag. Sit dan die ander laag koek bo-op. Smeer die gesmelte sjokolade bo-op die boonste laag koek en versier dit dan met die gekapte haselneute.